Ons is so geneig om vas te val in wat ander mense van ons dink, dat ons verleer om te weet wie ons is. Van kleins af word ons op minder en meer subtiele maniere voorgeskryf oor wie en wat ons moet wees. En alhoewel ons iewers in ons lewe darem begin ontdek wie ons is, is die stemme van buite dikwels baie sterker as ons eie interne waarheid oor wie God ons gemaak het. Daar bestaan ’n sterk teorie wat sê dat ons persoonlikhede eintlik die masker is waarmee ek myself in die wêreld verdedig. Dit is met ander woorde nie wie ek werklik is nie, maar eerder die manier wat my ego ontwerp het om my teen die wêreld te beskerm.

Om my diepste waarheid te vind is moeilik. Daarvoor moet ek heelwat tyd in my eie geselskap spandeer en ek moet heelwat tyd by God spandeer sodat ek stelselmatig kan leer hoe die stem van my siel klink. Wanneer ek my tussen ’n klomp stemme bevind en na te veel stemme luister verloor ek die vermoë om my eie diepste waarheid te hoor. Daarom sê die sanger Stef Bos moet ons soms intensioneel kies om nie met mense te gaan praat oor ons probleme nie. Nie na die sielkundige of die domine of berader te soek nie. Nie die mense in my lewe tot vervelens toe met my stories te belas nie. Maar gaan sit. Met myself. Stil word. En luister. En God sal binnekort deur my eie siel begin fluister. Ek sal agterkom dat my diepste waarheid maar nog altyd daarbinne lê.

Dat ek moet leer om minder bekommerd te wees oor wat mense van my sal sê, maar net probeer om sover moontlik met groot integriteit, opregtheid, respek en deernis op te tree. Vir sommige van ons is dit makliker. Vir ander van ons (veral die van ons met ’n beeld-ego) voel dit feitlik onmoontlik.

Iemand sê iewers: “Maybe the journey isn’t so much about becoming anything. Maybe it’s about unbecoming everything that isn’t really you so you can become who you were meant to be in the first place. Ralph Waldo Emerson leer ons: To be yourself in a world that is constantly trying to make you something else is the greatest accomplishment.”

En EE Cummings sê: To be nobody but yourself in a world which is doing its best, night and day, to make you everybody else – means to fight the hardest battle which any human being can fight; and never stop fighting.

Jy het dalk al die verhaaltjie van Abba Pumen wat gesê het dat wanneer hy aan die einde van sy lewe kom gaan God nie vir hom vra: Waarom was jy nie Moses nie? Hy gaan ook nie vra: Pumen, waarom was jy nie Elia of selfs Jesus nie. Hy gaan vra: Pumen, waarom was jy nie Pumen nie? Wanneer ek nie is wie God my bedoel het om te wees nie, beroof ek eintlik die wêreld van daardie geskenk wat God in my wou gee. Ek sal graag wil hê dat hierdie woorde van Meister Eckhart eendag op my grafsteen staan: “We are all called to God on a different path. Do not follow the path of others. Follow the path that God has given to you.”

So wat sal die mense sê aan die einde van jou lewe? Hopelik dat jy was wie God jou bedoel het om te wees en dat jy geleef het vanuit jou diepste waarheid.