Baie mense gooi heeltemal te maklik tou op as dinge nie reg verloop nie of as hulle met die een of ander teenspoed te doene kry. In plaas daarvan om deur te druk, raak hulle heeltemal van koers af en is sommer gou moedeloos. Dis verstaanbaar. Dit is nie ongewoon om ’n punt te bereik waar ons handdoek ingooi nie, veral as ons lank met ’n probleem of ’n swakheid gesukkel het.

Ons aanvaar dit dan en sê: Nou ja, ek het nog maar altyd hierdie kwaal gehad. Ek skat ek sal nooit gesond word nie. My huwelik is al jare lank saai en vervelig; hoe kan ek verwag dat iets nou moet verander? Ek het een keer te veel my kop teen hierdie firma se glasplafon gestamp. Dit lyk my dis nou maar so ver as wat ek gaan vorder.

Maar as jy nóú die beste uit jou lewe wil put, moet jy meer vasberade wees. Om jou volle potensiaal te bereik, is om krag uit teenspoed te put. Ons gesindheid moet wees: Ek is dalk al ’n paar keer in my lewe platgeslaan, maar ek gaan nie bly lê nie. Ek is vasberade om seëvierend te leef. Ek is vasberade om ’n goeie huwelik te hê. Ek is vasberade om my pad deur hierdie probleme te vind.

Ons kom almal voor uitdagings te staan. Ons kry almal met teenspoed te doen. Ons kan van buite platgeslaan word, maar die geheim is om te leer hoe om in jou binneste op te staan.

Ek het ’n verhaal gehoor van ’n seuntjie wat saam met sy ma kerk toe is. Hy was so woelig en wou om die dood nie stilsit nie. Trouens, hy het kort-kort opgestaan op die sitplek. Sy ma het gesê: “Seun, sit plat.” Na ’n
paar sekondes het hy weer opgestaan. Sy het hom weer saggies tereggewys: “Seun, ek het dan gesê jy moet sit!”

Dit het ’n hele paar keer gebeur. In ’n stadium het die seuntjie opgestaan en geweier om weer te gaan sit. Sy ma het haar hand op sy kop gesit en hom ferm afgedruk op die sitplek. Die seuntjie het uitdagend geglimlag. Uiteindelik kyk hy na sy ma en sê: “Mamma, ek sit dalk aan die buitekant, maar binnekant staan ek!”

Soms is dit wat ons moet doen. Ons omstandighede kan ons dalk dwing om ’n rukkie lank te sit, maar ons mag nie bly sit nie. Selfs wanneer ons op die oog af sit, moet ons in ons binneste kiertsregop staan!

Jy het dalk slegte nuus by die dokter gekry. Dalk het jy jou beste kliënt verloor. Miskien het jy pas uitgevind dat jou kind in die moeilikheid is. Jy kan ’n ander ernstige terugslag ervaar, en voel asof die lewe op jou intuimel en jou plat druk. Die goeie nuus is dat jy nie hoef te bly lê nie. Al kan jy nie van buite opstaan nie, moet jy van binne opstaan! Met ander woorde, behou die gesindheid en denkwyse van ’n wenner. Behou ’n gelowige gesindheid.

Moenie toelaat dat jy verval in ’n negatiewe denkwyse en begin kla of God verwyt nie. Lig jou ken en sê: Here, ek verstaan dalk nie wat aangaan nie, maar ek weet U is steeds in beheer. U het gesê dat alles ten goede sal meewerk vir my. U het gesê dat U hierdie teenspoed sal omkeer en tot my voordeel sal gebruik. Daarom dank ek U, Vader, dat U my hierdeur sal help!

Dit maak nie saak waarvoor jy te staan kom nie, as jy weet hoe om van binne op te staan, kan teenspoed jou nie onderkry nie. Wanneer jy jou deel doen, sal Hy dinge begin verander en op bonatuurlike wyse in jou lewe werk.