Digitaal: R20.00
Gedruk: R34.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 6:

Elke keer dat ‘n gedagte deur jou brein gaan, word chemiese stowwe afgeskei wat gevoelens en reaksies in jou liggaam laat ontstaan. Jou liggaam word so gewoond aan hierdie chemiese stowwe en wil dit altyd op daardie vlak hou. As jy dus wil verander, voel die liggaam erg ongemaklik omdat jy hierdie vlak van chemiese stowwe versteur. Jy is dus verslaaf ─ jy hoor reg: verslaaf ─ aan daardie emosionele toestand wat deur spesifieke chemiese stowwe in jou brein geskep is. Die wonderlike nuus is dat jy wel die vermoë het om uit te breek; die bedrading van jou brein te verander (neuroplastisiteit) sowel as die verslawing aan hierdie vlak van chemiese stowwe.

Een van die wonderlikste ontdekkings in die laaste tyd handel juis oor die neuroplastisiteit van die brein, naamlik dat die brein verander kan word ─ in lekker Afrikaans, herbedraad kan word. Prakties beteken dit dat ons kan dus van alle ongesonde gewoontes of gedagtes wat ons van ons voorouers geërf het of wat ontstaan het van ons verlede, ontslae raak deur ons brein nuut te bedraad.

Elke mens op aarde wil gelukkig wees. Ek glo trouens hierdie begeerte is die een ding wat ons motiveer in byna alles wat ons aanpak. Maar weet ons regtig wat ons waarlik gelukkig maak? En is geluk bloot ‘n gevoel of ‘n emosie wat ons najaag, of gaan dit oor iets dieper?

 Jou lewe gaan een of ander tyd eindig, of jy gereed is daarvoor of nie. Jy kry nie ‘n tweede kans nie; sorg dus dat jy hierdie een lewe wat jy gekry het, met oorgawe leef. Jou lewe is ‘n kosbare geskenk van God en dit sou werklik tragies wees as jy dit sielsongelukkig slyt. 

God het vir ons die vermoë gegee om geluk te kies ongeag wat om ons gebeur. Ek sê nie jy moet jou kop in die sand druk en jou probleme ignoreer nie, maar dit maak ‘n groot verskil of jy jou blind staar daarteen of daaraan werk om dit op te los.

Op pad na die ja’s sal daar nee’s ook wees. Jy het die nee’s nodig om jou ja’s te kry. Die fout wat baie mense maak, is dat hulle ontmoedig word deur nee’s en dan tou opgooi. Wanneer jy by ’n nee kom, moet jy nie moedeloos raak nie, maar eerder sê: “Ek is een tree nader aan my ja.” Sê nou jy kon in jou toekoms kyk en agterkom dat jy twintig keer nee sou hoor voordat jy by jou ja kom? Dan sou jy bereid gewees het om ’n teleurstelling of ’n terugslag te hanteer. As jy kon weet jou ja is net twintig keer sê nee vêr, sou jy nie opgegee het toe jou lening afgekeur is of toe jy die groot verkoopskontrak verloor het nie. Jy sou dit net afgemerk het en gesê het: “Wel, dis een nee nader – nou gaan ek nog net negentien keer nee hoor.”

Moenie vir ‘n oomblik dink God gluur van ver af na jou met gevoude arms en ‘n frons terwyl Hy wag dat jy jou gebedslewe op dreef kry nie. Dit is presies die teenoorgestelde. Gebed is nie ’n voorreg vir die vromes, die kuns van uitverkore enkelinge nie. Gebed is gesprekke met God op pad werk toe, terwyl ons vir ’n afspraak wag of voor ons met ’n kliënt onderhandel. Ons bid om sober, solvent en gesentreerd te bly. Ons bid wanneer die knop kwaadaardig blyk te wees. Ons bid wanneer die geld opraak voor die maand om is, wanneer die ongebore baba lanklaas beweeg het. Ons bid almal …bietjie. Maar sal ons nie almal graag meer, beter, diepsinniger, kragtiger en met meer vurigheid, geloof en ywer wil bid nie?

Dis partykeer moeilik om verhouding te bou as jy en jou kind vassit. Maar daar is tog maniere om saam te groei ten spyte van julle verskille. Jy en jou kind is individualisties en julle moet julle persoonlikheidsverskille in ag neem as dit voel asof julle verby mekaar praat. Daar is spesifiek drie goed wat jy kan doen om tog die gesinseenheid te versterk ten spyte van hierdie verskille.

Dit maak nie saak hoe chaoties jou lewe is nie, jy is in presies die regte posisie vir God om ’n skeppingswerk te verrig. Dit is God se bedoeling dat jy moet uitstyg…maar meer nog as dit, dat jy moet uitstyg na die immer hoër wordende vlakke wat volgens sy plan en doel vir jou lewe is.

Die grootste fout wat mense in ‘n verhouding maak, is om te dink dat liefde outomaties is en op eie stoom kan loop. Veral mans is geneig om te dink dat alles in orde is en ‘n gepratery net alles gaan beduiwel. Die ding werk mos goed so en in elk geval, moet ‘n mens nie slapende honde wakker maak nie.

Liefde is nie iets wat natuurlik kom en sommer so romanties gebeur nie. Liefde is ook ‘n werk, ‘n loopbaan en ‘n roeping. Dit moet gereeld geoudit word, anders klop die liefdesboek op die ou end nie. Veral na ‘n paar jaar nadat al die mooi praatjies verby is. Praat weer en dink saam oor julle verhouding. Dit kan verhoed dat julle liefdesbank bankrot verklaar word!

Om die verskille in julle persoonlikheid te verstaan voordat die verliefdheid verdwyn, is ’n slim plan.