Digitaal: R20.00
Gedruk: R34.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 5:

Depressie is werklik ‘n baie uitmergelende en moeilike siekte met baie uitdagings en wanneer ek van depressie praat, word dit met die grootste deernis gedoen. Daar is meer hoop as wat jy dink. Die antwoord is nie net medisyne nie. Nee, medisyne en ‘n lewe van geluk kan groot verandering in jou lewe bring! Die goeie nuus is dat navorsing bewys het dat positiwiteit selfs die depressiegeen kan teenwerk. Die velde van positiewe sielkunde en emosionele intelligensie het baie tegnieke en vaardighede wat die lewe van die depressielyer kan vergemaklik en selfs verbeter.

Dit maak my bedroef om mense te sien leef met ’n vrees dat God vir hulle kwaad is as gevolg van hul sondes, swakhede en foute. God haat wel sonde, maar Hy is lief vir sondaars en Hy is altyd gereed om ons te vergewe en vernuwe wanneer ons sondig.

Jy het een van twee keuses. Een is om aan te gaan en God te blameer vir jou swaarkry, of jy kan kies om God te vertrou te midde van die verlies wat jy ervaar het. Ek weet dat God jou wil help, maar jy moet die deur oopmaak deur te glo dat Hy goed is en Hom vra om te doen wat vir jou die beste is.

Jy het ‘n roeping om te vervul. Dit maak nie saak hoe benard ‘n situasie in menslike terme lyk of hoeveel struikelblokkie jy te bowe moet kom nie ─ God het jou nie vergeet nie. As jy elke dag lewe in die verwagting dat dit ’n wonderbaarlike jaar gaan wees, as jy God se wonderbaarlike genade verwag, sal Hy op ongelooflike manier ingryp en in jou lewe werk.

Ek het altyd gedink luiaard beteken letterlik dat iemand lui is; dat dit iemand is wat eenvoudig nie die nodige moeite wil doen om iets uit te rig of te bereik nie, of dat hulle onaktief is. Ek het gedink ‘n lui mens is ‘n stoelpatat ─ wat nie veel doen wat inspanning verg nie.

Maar ná jare se werk met suksesvolle mense wat vasgeval het, het ek iets agtergekom: Jy kan baie aktief wees en terselfdertyd ook baie lui wees. Om lui te wees is om ’n lewe sonder pyn en ongemak te wil hê. Suksesvolle mense sal nie uitstel om hulle droom te verwesenlik omdat hulle bang is vir die pyn en ongemak om te bereik wat hulle in die lewe wil hê nie.

Dink jy jy is effektief as ouer? Of voel jy dat jy dalk bietjie sukkel met ouerskap en te veel foute maak? Jou styl van ouerskap mag dalk in konflik wees met jou kind se styl. Onthou dat daar nie ’n reg en verkeerd is wanneer dit kom by die tipe mens wat jy is nie, maar dit kan jou help om te verstaan hoekom jy soms voel dat jy en jou kind verby mekaar praat en leef.

Ek het nooit gedink ek gaan eendag my kinders alleen moet grootmaak nie. Ek het met sterre in my oë kansel toe gestap, ons kinders in die kerk laat doop en Sondagskool toe gestuur. Ek het nie verwag om eendag ‘n egskeidingsbevel te onderteken waarin die aardse raamwerk van my ouerskap uiteengesit gaan word nie. Dalk het jy ook hierdie drome gehad, maar is ontnugter toe jou en jou man se paadjies skei.

Nou is jy ’n enkelouer. Wat nou? Is daar iewers “tips” vir hierdie ding waarvan jy niks weet nie.

By huweliksberading is die enkele grootste probleem die verskynsel dat twee mense in ‘n huwelik so drasties verskil. Ironies genoeg is dit juis hierdie verskille wat julle aanvanklik na mekaar toe aantrek. Hierdie magnetisme kan paartjies nagte om laat gesels ─ juis omdat julle hierdie wonderlike andersheid wil ontdek en geniet. Ná sewe jaar se getroude lewe en dikwels ná kinders, weet julle nie meer wat om met die verskille te maak nie. Julle vind dit glad nie meer aantreklik of magneties nie en sal mekaar veel eerder wil verander (vermoor) of opgradeer soos met ‘n nuwe selfoon.

Om die verskille in julle persoonlikheid te verstaan voordat die verliefdheid verdwyn, is ’n slim plan.