Digitaal: R20.00
Gedruk: R31.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 4:

Woorde besit krag ver bo wat ’n mens jou kan indink. Dink daaroor. Toe God die wêreld geskep het, hoe het Hy dit gedoen? Hy het gepraat. God het gesê: “Laat daar wees . . .” en dit was daar. Woorde het krag. Selfs in talle sprokies, legendes en mites is dit die krag van ’n gesproke towerspreuk of magiese frase wat óf verwoesting kan aanrig óf harmonie kan herstel. Die krag van godvresende woorde kan vernuwe, genees en ons lewe verander. Goddelose woorde het die krag om te bind, gevange te hou en te verwoes.

Kreatiewe woorde skep. Verwoestende woorde breek af. Kwetsende woorde verpletter. Nuttige woorde bou op. Toksiese woorde vergiftig. Sagte woorde genees. Geloofsgevulde woorde bring lewe. Goddelose woorde bring die dood. Wanneer dit kom by wat jy hoor en wat jy sê, is daar vir jou keuses om te maak, talle kere op ’n dag. Wanneer jy ander se woorde hoor kan jy kies om dit as die waarheid aan te neem of as leuens te verwerp. Elke keer wanneer jy jou mond oopmaak om ’n woord te uiter, het jy die geleentheid om lewe te spreek of die versoeking om dit te neem. Dink ’n bietjie terug oor die afgelope paar dae. Toe jy met ander mense gepraat het, wat het hulle gehoor? Jy het óf skerp pyle met punte in gif gedoop na hulle harte gemik, óf jy het hulle ingespuit met lewegewende, Godveranderende krag.

Jy slaap. Jy hoor ’n stem en jy is seker dit is die Hemelse Vader wat met jou praat. Hy sê aan jou, soos aan Salomo van ouds, jy kan kies wat jy graag wil hê en jy sal dit ontvang. Wat sal jy kies? Ek weet regtig nie wat ek sou kies nie. Sekerlik nie wysheid nie. Ek sou nooit daaraan gedink het nie. As ek eers kon gaan dink daaroor, sou ek dalk ’n beter besluit kon neem. Kyk ’n mens na wat navorsing oor die wêreld heen bewys, dan sou die meeste mense geluk gekies het. Maak nogal sin né?

Wat is een van jou grootste begeertes? Mense sal dinge noem soos gesondheid, goeie verhoudings en sukses. Kom dit nie maar eintlik alles daarop neer om gelukkig te wees nie? Miskien was Aristoteles tog reg? Dit is nie verniet dat daar duisende boeke oor geluk gepubliseer word nie en baie navorsers noem dat dit byna die nommer 1-begeerte van die meeste mense is. Jy is nie ’n uitsondering nie.

Met ’n gelukkige lewe bedoel ek nie net gevoelens van geluk nie. Ek bedoel ook nie daardie geel gesiggie met die glimlag nie. Nie dat die gevoelens nie deel van ’n gelukkige mens is nie. Ek bedoel ook nie die cliché van “Don’t worry, be happy” nie. Nee, ek praat van ’n baie dieper geluk wat binne elke mens se bereik is. Dit maak nie saak waar jy op die skaal van geluk lê nie, jy kan leer om gelukkiger te wees.

Ons tydjie op aarde is kort. Sou dit nie jammer wees as iets uit die verlede – of dit nou twintig jaar of twintig minute gelede gebeur het nie – die res van ons dag ruïneer nie. Ek het besluit om te probeer om elke dag van my lewe te geniet. Ek gaan waarskynlik foute maak; alles gaan nie altyd volgens plan verloop nie. Ek gaan soms teleurgestel word, maar ek het nogtans besluit om gelukkig te leef. Ek gaan nie toelaat dat dinge wat gebeur en dinge wat nie gebeur nie, my vreugde steel en my weghou van God se oorvloedige lewe nie.

Dit maak nie saak hoe suksesvol ons is nie, ons kry almal te doen met uitdagings, moeilikhede en teenspoed. Baie mense dink dadelik dat hulle iets verkeerds gedoen het wanneer ’n ramp hulle tref. Hulle dink dat God hulle straf. Hulle verstaan nie dat God ’n doel het met elke probleem wat in ons lewe opduik nie. God stuur nie teenspoed nie, maar haal ons ook nie altyd dadelik daaruit nie.

Hoekom is dit so? Die Bybel sê dat versoekings, beproewings en probleme nodig is sodat ons geestelike spiere kan oefen en versterk deur weerstand te bied teen teenspoed en aanvalle. Boonop leer ken ons ons ware self eers werklik in tye van teenspoed. Die druk openbaar dinge soos verkeerde gesindhede, verkeerde motiewe en plekke waar ons kompromieë aangaan. Dit klink dalk eienaardig, maar beproewings kan voordelig wees.

Die Skrif sê: “Moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.” Let daarop dat die beproewing bedoel is om jou karakter en jou geloof te toets. Met ander woorde, moenie dink dis iets buitengewoons wanneer jy hierdie teenspoed beleef nie. Jy sal dwarsdeur jou lewe voor toetse te staan kom. Al geniet jy dit nie, sal God dit gebruik om jou te louter en te reinig. Hy probeer om jou te vorm tot die mens wat Hy wil hê jy moet wees. As jy leer om met God saam te werk en ywerig is om werk te maak van die sake wat Hy onder jou aandag bring, sal jy die toets slaag en na ’n hoër vlak vorder.

Deesdae ondervind ek dat baie kinders nie oor die weg kom met hulle broers en susters nie. ’n Mens het altyd so ’n ideale beeld dat boeties altyd sal saamstaan en ’n broer uitkyk vir sy jonger suster. In sommige gevalle is dit so, maar dan kom daar ook ’n anderkant van die verhouding ter sprake: die baklei.

Watter ouer het nie al ’n geskree en gehuil probeer keer en oplos nie, of moes aanhoor hoe die een meer aandag kry as die ander, en selfs die woord “witbroodjie” word soms rondgegooi. Wat staan jy as ouer te doen as jou kinders nie oor die weg kom nie?

Die probleem volgens my is tweeledig. Eerstens voel sommige kinders dat die ouer nie genoeg aandag gee aan hom of haar as ’n individu nie. Tweedens kom sommige kinders net glad nie oor die weg met hul broer of suster nie.

Elkeen van ons benader die lewe op ’n ander manier. Partykeer kan mense op amper ’n naïewe manier positief wees en partykeer kan hulle weer ontstellend negatief wees! Dit maak nie nou saak of jy negatief of positief oor die toekoms is nie – die feit van die saak is dat jou verwagting van die toekoms nie honderd persent ontmoet gaan word nie.

Wie weet, miskien gaan jou verwagtings oortref word en kry jy meer as waarvoor jy gehoop het! Maar die kans is ook daar dat jy sleg teleurgestel gaan word. Die rede hiervoor is omdat nie een van ons weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Ons kan dit nie akkuraat voorspel nie en baie dinge gebeur wat ons nooit sien kom het nie. Dit maak dat baie van ons die toekoms vrees en bekommerd is oor die dinge wat ééndag vir ons wag. Die onbekende en die onbeheerbare is iets wat vir elkeen van ons al ’n paar slaaplose nagte veroorsaak het.

My begeerte is dat jy met ’n realistiese hoop en verwagting in die toekoms sal instap. Dit is nie so onmoontlik soos wat jy dink nie! Die eerste klein stappie wat jy kan neem, is om beheer van jou lewe aan God oor te gee. Dit beteken nie dat jy nie meer verantwoordelikheid vir jou lewe aanvaar nie. Dit beteken dat jy onderskeid tref tussen die goed waarvoor jý verantwoordelik is en die goed waarvoor God verantwoordelik is.

Die grootse teenstrydigheid van kinders is dat hulle deur hul ouers gelei wil word maar dring daarop aan dat hulle ma’s en pa’s eers die reg om hulle te lei, moet verdien. Wanneer ouers weier om iets aan hulle
kinders se uitdagende gedrag te doen en dit bloot ignoreer, verander daar iets in hulle verhouding. Die kinders se respek vir hulle ma en pa begin verdwyn; hulle voel hulle ouers verdien nie hulle gehoorsaamheid nie.

Om jou kind se potensiaal te verwesenlik, is ’n streng maar liefdevolle huislike omgewing in die vroeë jare uiters belangrik. Daarom wil ek my waarskuwing herhaal: Begin die wil van jou kind vorm terwyl hy of sy nog ’n peuter is. (Let op dat ek nié sê verpletter die wil van hierdie kind nie). En dan ten slotte, beloon elke positiewe teken van samewerking van jou kinders deur aan hulle aandag te gee, hulle ’n drukkie te gee of hulle met woorde te prys.

As jy vandag seer het en twyfel of dinge ooit weer sal regkom . . . verwag ’n wonderwerk! As jy net deurskraap in die lewe, belangloos die regte dinge doen maar tog soekend is na iets meer. . . verwag ’n wonderwerk! As jy kinders grootmaak en wonder wat van hulle gaan word . . . verwag ’n wonderwerk! As jy ’n groot avontuur aanpak, en jy is meer waaghalsig as tot nog toe . . . verwag ’n wonderwerk!

Indien jy sou waag om jou hoop en jou verwagtings hoër te stel, sal jou lewe begin verander. Jou geloof sal groter word en jou blydskap sal terugkom en vrede sal jou gemoed oorheers. Maar as jy tevrede is om net deur te skraap, en ’n ingesteldheid het van ek moet maar tevrede wees met wat ek het, of dalk is ek volgende keer meer gelukkig, moenie verbaas wees as dinge nie uitwerk nie. Hoop het die vermoë om die lewens van diegene wat dit aangryp, onherroeplik te verander. Dit is die katalisator wat idees en die verbeelding laat ontvlam, die anker wat keer dat ons wegdryf as storms om ons woed, die waagmoed wat ons uitdaag om ’n beter lewe te bou en die vertroosting om te weet dat ons nie alleen is nie.

Indien jy hiervan hou, wees dapper genoeg en doen iets nuuts: Verhoog jou verwagtings. Laat jou hoop die hoogte inskiet. Jy sal uiteindelik bly wees hieroor omdat God gereed is om sy seëninge oor jou uit te stort.