Digitaal: R20.00
Gedruk: R31.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 3:

Hoe lyk voluit leef ? Ons is konstant besig met pogings om te verbeter, of skuldig te voel omdat ons dit nie doen nie. “Voluit leef ” is vir ons méér doen. Raak jy benoud oor jou “lysie van 50 moet-doens-voor-ek-doodgaan” waarby jy nie gaan uitkom nie? Dit is nie wat voluit menswees beteken nie.

Ons het nie méér en nóg nodig nie. Ons het dieper nodig! Die meeste van ons leef ’n baie gewone lewe – sommige sal dit selfs as saai beskryf. Gebeur daar niks in ons lewe nie, voel ons vaal en vervelig. Doen ons te veel, voel ons oorstuur en buite beheer. Ons dink graag aan onsself as individualiste, tog meet die meestevan ons onsself en mekaar aan die standaard wat ander stel. Die meeste mense wat ek ken, is bolangs heel gelukkig, maar krap so bietjie aan die oppervlak lagie, dan is daar by baie ’n ontevredenheid. Ons wil graag ’n betekenisvolle lewe leef, maar ou leefpatrone is soms so gevestig dat ons aanhou wens dinge kon anders wees, sonder om die ongemak aan te durf van nuwe gewoontes aan te leer om sinvolheid te ervaar.

Ons verwar besige lewens met betekenisvolle lewens. Ons weet nie hoe om ons sielshongerte te versadig nie, daarom verdoof ons die sug met allerhande kunsmatige afleidings. Ook die samelewing se siel roep uit: “Dit kan nie so aanhou nie!” Ons het verbruikers van godsdiens geword in plaas van versorgers van ’n geestelike lewe, ons het ’n hele industrie van Christelike kitsch geskep en boekwinkels vol spirituele ‘junk food’ wat ons versadig, maar oorgewig laat.

Baie mense word groot met die opvatting dat dit verkeerd is om te veel ernstige vrae oor die sin van die lewe te vra. “Aanvaar eenvoudig wat oor jou lewenspad kom en berus daarby, want daar is ’n doel met alles,” is min of meer die raad wat ’n mens gewoonlik moet aanhoor as jy deur die een of ander krisis worstel. Terselfdertyd word dit ook as taboe beskou om vrae oor God se wil te vra of met Hom swaarde te kruis oor jou probleme.

Hierdie soort uitsprake het natuurlik groot byval in die volksmond gevind en as’t ware deel van die populêre evangelie onder baie mense geword. Natuurlik rym hierdie soort uitsprake nie regtig met die Bybel se inhoud nie. Ten eerste is God se wil nie so vas en onbuigsaam dat Hy glad nie daaraan kan verander nie. Ons as mense is nie deel van ’n vooraf vervaardigde hemelse video program wat nou willoos afspeel nie. Die Bybel wemel van voorbeelde waar God sy planne op kort kennisgewing ingrypend verander het.

Benewens die feit dat God se wil, kan verander, is dit ook waar dat Hy mense toelaat om van Hom te verskil en selfs sake met Hom te bespreek. Wanneer die lewe jou soms in ’n hoek vasdruk en dit vir jou voel asof daar ’n besettoon na die hemel toe is, moet jy nie te gou die handdoek ingooi nie. Geloof beteken om in sulke omstandighede juis met God te bly praat, om as’t ware die lyn weer oop te bid. God is nooit doof vir opregte gebed nie. Hy is bereid om na enige saak te luister wat meriete het.

Dit klink belaglik, maar daar woed ’n oorlog rondom jou, al is jy dalk nie eens daarvan bewus nie. Die stryd gaan nie oor ’n grondgebied of natuurlike hulpbronne soos gas, olie, goud of water nie. Hierdie stryd gaan oor iets wat baie waardevoller is: jou gedagtes.

As jy jou potensiaal ten volle wil uitleef, moet jy die mag van jou gedagtes en woorde ontdek. Jou vyand se vernaamste teiken is jou gedagtes. Hy weet hy kan jou hele lewe beheer en manipuleer as hy daarin slaag om jou gedagtes te beheer en manipuleer. Gedagtes beheer inderdaad ’n mens se optrede, gesindheid en selfbeeld. Gedagtes bepaal in werklikheid ’n mens se lotsbestemming. Daarom waarsku die Bybel ons om ons gedagtes te bewaak.

Baie ouers, ek inkluis, is baie ontsteld wanneer hulle kinders deur ’n moeilike tyd gaan of wanneer hulle hartseer of gefrustreerd is. Dit is tog so dat ’n kind se ontsteltenis, ’n ouer sin word. Woede, hartseer en frustrasie is nie lekker nie. Maar leer jou kind van kleinsaf hoe om dit reg te hanteer binne die grense van ’n gesonde gesin.

Gesonde emosionele ontwikkeling vind plaas wanneer emosies toegelaat word, en ook wanneer ouers kinders leer om daardie emosies op ’n gesonde manier te verwerk.

Ek weet dat geloof die teenoorgestelde van die wet is en dat hoe meer geloof uit mense getap word, hoe meer selfbewus raak hulle en hoe meer maak hulle op hul eie pogings staat om iets van die Here te ontvang.

Prediker sê dat alles het sy bepaalde uur en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd. God het alles mooi gemaak op sy tyd. As jy God se tye en seisoene kan verstaan en onderskei, sal jy altyd vervuld wees. Tyd wat jy verspeel het, kan jy nooit weer inhaal nie, jy kan net sorg dat jy die tyd wat jy oor het reg gebruik. Die lewe is te kortom elke keer God se tydsberekening te mis. Dit help nie jy vra iets van God wat se tyd nog nie gekom het nie.

Met elke seisoen in jou lewe kom daar beloftes, uitdagings en opdragte. Elke seisoen in jou lewe het ’n doel. Moenie God se tyd in jou lewe mis as gevolg van ongehoorsaamheid of ongeduld nie. God wat alles weet, is bewus van ’n moeilike seisoen wat voorlê en sal jou nooit alleen laat nie. Soms is dit juis sulke tye wat die Woord van God beproef in ons kan verklaar.

Ek staan in die bus se piepklein badkamertjie met die pille in my hand. My hele lyf begin ruk van die onttrekkingsimptome. Dit voel asof ek letterlik gaan doodgaan as ek dit nie nou dadelik drink nie. Maar ek het reeds besluit . . . ek’s klaar hiermee. Met bewende hande gooi ek die pille by die bus se venster uit en val op my knieë neer. “Here, nie uit my krag nie, maar uit U s’n,” bid ek, terwyl die trane oor my wange stroom. In Jeremia staan daar dat U vir ons ’n wonderlike toekoms beplan van hoop en voorspoed,” bid ek. “Ek vra vir hoop en hulp . . ek het U nodig, Here!”

Van al die leuens waarmee die vyand Christenma’s oor die jare mislei het, is een van die gevaarlikste die volgende: Alle ma’s bekommer hulle oor hul kinders. Ek dink baie ma’s glo daardie leuen as ’n onbetwisbare feit. Hulle aanvaar bekommernis nie net as deel van moederskap nie, maar byna as ’n deug. As jy ’n paar artikels en gedigte oor moederskap lees, sal jy dit gou verstaan. Baie van hul besing die idee dat ’n ma se liefde voortdurende kommer voortbring.

Gewoonlik is die meeste vrese wat ma’s moet oorkom relatief gering. Dit is goed soos om kleintjies van doeke af te kry, nukkerigheid, swak skoolpunte en puberteit. Wanneer ons egter met ernstige sorge te doen kry, is dit belangrik dat ons moet onthou dat ons dieselfde geloofsbelydenisse wat ons vir die klein sorge gebruik het, ook kan gebruik om die koppe van die reusagtige sorge af te kap. Leer om vir jouself te sê: Ek sal nie vrees nie. Jy gaan dit dalk ’n paar keer vir jouself moet sê voor dit vir jou werklik word.