Digitaal: R20.00
Gedruk: R44.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 27:

Toe Abraham besluit het om God te glo, het God hom beveel om uit sy tent te klim en na die sterre te kyk en te weet dat God in al sy behoeftes sal voorsien.

God beskou dit as ’n voorreg om in ons behoeftes volgens die rykdom van sy genade te voorsien.

Alle mense wat God se kinders is, wil graag op ’n manier ’n mooi mens wees, maar die dilemma is dat die meeste mense nie so gewillig is om die pad te stap wat van hulle ’n mooi mens maak
nie.

Meestal is die soort pad wat van ons God se mooi mense maak ook ’n pad van swaarkry op allerhande maniere. Daar is min mense wat ’n klipperige pad in ons lewens verwelkom, maar die realiteit is dat as ons dit toelaat kan God tye van swaarkry uiters vrugbaar in ons lewe gebruik.

Jy het dalk gebid vir bevordering, maar dit nie gekry nie. Jy het om ’n lening aansoek gedoen, maar dit is afgekeur. ’n Verhouding wat vir jou baie beteken het, wou nie uitwerk nie. Ons kan so dikwels moedeloos raak en voel dat God ons in die steek gelaat het.

Die hoofsaak is dat God jou beste belange op die hart dra. As ’n deur toegemaak word, weet jy nie wat God jou spaar nie. As jou gebede nie beantwoord word soos jy gevra het nie, moenie mismoedig raak nie, moenie voel God het jou in die steek gelaat nie. Verander eerder jou perspektief. Die rede vir die toe deur is dat God iets beters vir jou in gedagte het.

Dit is glad nie onverantwoordelik om jou bekommernisse te laat vaar nie. Inteendeel, om hulle in die hande van die Skepper van die heelal te laat, is die kragtigste ding wat jy kan doen.

Wanneer jy laat los, sê jy in werklikheid: “Here Jesus, ek vertrou op U om die leisels oor te neem. Ek kan niks doen nie, maar U kan. Ek vertrou op U. Ek kies om te laat los en om al my stres, bekommernisse en angs aan U oor te gee, want ek weet U het my lief.”

Die Skrif stel dit so: Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om. – 1 Petrus 5:7 Luister hoe klink dit in Die Boodskap: Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.

Jy kan al jou bekommernisse vir eens en vir altyd aan God oorgee, want Hy gee vir jou om. Dit maak nie saak waaroor jy jou kwel nie.

Hoe meer waarde jy aan mense heg, hoe meer sinvol sal jou lewe wees.

Dit is jou keuse hoe gelukkig of ongelukkig jy wil wees. Niemand kan jou dwing om met ’n sekere gesindheid te lewe nie. Jy sal die lewe soveel meer geniet as jy eenvoudig kies om positief te dink. Kies om gelukkig te wees wanneer jy soggens wakker word. Kies om dankbaar te wees vir die nuwe dag. Kies om die blink kant bo te hou. Kies om op die moontlikhede te konsentreer.

’n Positiewe gesindheid kom nie vanself nie. As jy dit nie doelbewus aankweek nie, kan jy baie maklik in negatiewe gedagtes verval. Jy kán elke dag kies met watter gesindheid jy wil leef. Jy kán kies om gelukkig te wees en die positiewe in elke situasie te sien – jy kan goeie dinge verwag en glo dat jy jou drome kan bewaarheid.

Die lewe is ’n lappieskombers. En ’n liefdeslied. Dit is erg. Dit is goed. Soms laat dit ons voel na tou opgooi. Soms laat dit ons verbete veg vir dit wat vir ons ononderhandelbaar is. Soms voel
dit te stukkend om ooit weer heel te word. Soms voel dit onwerklik.

Ondenkbaar. En soms is dit eufories. Asem, aanraking, geur. Aarde, lig, klank, kleur. Wolke en wind; wysies. Oë, hande, stem. Rug aan rug: ’n Oop pad, of ’n deur wat dig getrek word. ’n Eerste skree. ’n Laaste sug.

God se beloftes werk. Dit kan jou deur verskriklike tragedies help. Dit kan jou anker in die daaglikse probleme. Dit is waarlik die groot en kosbare beloftes van God. Bou jou lewe op God se beloftes. Aangesien sy beloftes onbreekbaar is, sal jou hoop onwankelbaar wees. Die wind sal steeds waai. Die reën sal steeds val.

Maar op die ou end sal jy staan bly…op die beloftes van God.