Digitaal: R20.00
Gedruk: R37.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 17:

Die vermoë om jou denke te laat stil raak, jou aandag op die kwessie voor jou te fokus, jou gedagtes vas te vang, en dit wat jou aandag aftrek te verwerp, is ’n uitmuntende en kragtige vermoë wat God in jou geplaas het. In die besige tyd waarin ons leef, het ons egter hierdie natuurlike en noodsaaklike vaardigheid afgeleer. 

Natuurlik, want dit is in die ontwerp van die brein ingebou, en laat die brein toe om chaotiese, ongewenste gedagtes te vang en te dissiplineer; noodsaaklik, want dit kalmeer ons gees sodat ons ons kan instel op God en na Hom kan luister. Wanneer ons bedag is daarop om ons gedagtes op hierdie manier te vang, verander ons ons band met God van onbetrokke en onafhanklik tot betrokke en afhanklik.

Om jou gedagtes te dissiplineer en onder beheer te bring is een van die eerste stappe om jouself te bevry en om die lewe te begin geniet ten spyte van die laste van die wêreld.

Dit is goed om te onthou dat ons net een lewe het om te leef, en dan gaan ons van aangesig tot aangesig met God kom. Dit is waarom Paulus in Romeine 14:12 sê: “Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.”

Die bedoeling is nie om ons bang te maak nie, maar om ons te herinner dat die tyd wat ons gekry het, uiteindelik gaan uitloop. Dan gaan ons gevra word om rekenskap te gee van wat ons daarmee gedoen het. Die Skrifgedeelte maak my nie bang nie, maar dit oortuig my om sober te wees oor my lewe en dit te gebruik om

God te behaag. As jy die dag wil gryp, moet jy bereid wees om negatiewe gevoelens wat jou van die dag gaan ontneem,vas te vat.

In ons menslike pogings om regverdig te wees, is daar die versoeking om te dink God het ons almal presies dieselfde lief. Hoewel dit aanvanklik goed klink, is dieselfde net nie groot genoeg nie. Die woord dieselfde impliseer dat ons op die een of ander manier vervangbaar of uitruilbaar is. Soos: “Oeps, ek het een van die pers glase wat ek verlede week gekoop het, gebreek; ek hoop hulle het nog daarvan in voorraad.” Dit werk nie vir my nie en ek dink ook nie dit werk vir God nie.

God het ons elkeen op ’n unieke manier lief eerder as ewe veel. Glo my, uniek is beter.

Op ’n keer het Dallas Willard hierdie woorde geskryf: “There are multitudes of Christians who well may be ready to die, but who are not ready to live.” Hierdie woorde praat altyd met my. Hoe werk dit dat heelwat Christene redelik seker is wat eendag na hulle dood van hulle gaan word, maar dat hulle nie weet hoe om nou hier op aarde te lewe nie?

Soos alle ander mense sukkel ons as God se kinders soms geweldig met hoe om te lewe. Dis hier waar God ons stelselmatig wil leer om in wysheid te groei sodat ons met begrip vir die lewe en sy kompleksiteite kan leef. God stel intens belang in ons lewens; in die kwaliteit van ons lewe en of ons besig is om mettertyd die sielskennis te versamel wat aan ons wysheid gee en ons uiteindelik help floreer.

Wat is my doel? Het God regtig ’n plan vir my lewe? Ons het almal al hierdie vrae gevra en ongelukkig strompel baie mense maar net voort en vind toevallig die antwoorde. Die Christelike leefwyse hoef egter nie soos ’n wandeling in die donkerte te wees nie. Ons kan weet ons is binne God se wil vir ons lewens. Ons kan weet ons leef volgens ons doel. God weet presies waarvoor Hy jou geskep het. Hy weet presies wat jou vervulling en bevrediging sal gee. Hy het ’n plan vir jou en Hy weet hoe om jou daar te kry.

Mense dink aan moed of dapperheid as ’n eienskap wat net nodig is in tye van uiterste gevaar of stres, soos tydens ’n oorlog of ramp. Maar moed behels baie meer as dit en is baie meer gewoon as wat ons dink. Moed is ’n alledaagse deug. Die professor, skrywer en apologeet CS Lewis het geskryf: “Moed is nie net een van die deugde nie, maar die vorm wat elke deug aanneem wanneer dit getoets word.” Jy kan niks wat die moeite werd is sonder moed doen nie. Die mens wat moed aan die d ag lê, kan sonder verwyte leef. Talent alleen gaan nie van jou ’n sukses maak nie. As jy wil hê jou talent moet groei, moet dit onderwerp word aan toetse en omstandighede wat jou moed gedurig sal uitdaag.

Niks kom by die oomblik wanneer jy vir die eerste keer jou kind vashou en besef dat jy van nou af die verantwoordelikheid het om ’n lewe te vorm, om rentmeester te wees van ’n kosbare geskenk en ’n erfenis te laat nie.

Kinders gaan nie wag vir hul ouers se loopbane, sport of lewenstyle voordat hulle grootword nie. Van die dag dat hulle gebore word, begin hulle inneem, leer en groei. Ons kinders vra op baie verskillende maniere: “Het julle my lief ? Waar is my grense?”