Digitaal: R20.00
Gedruk: R37.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 16:

Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie.” Wie ken nie daardie woorde van Romeine 7:19 nie? Paulus se innerlike stryd oor die goeie wat hy wil doen, maar nie gedoen kry nie, is aan die meeste van ons goed bekend – uit ervaring. Afgesien van die teologiese betekenis hiervan, is dit taal wat met ons almal resoneer.

Jy het net een kop met eindelose potensiaal gekry toe jy die lewenslig gesien het. Tog is daardie einste kop dikwels verdeel tussen die goeie wat jy wil en die slegte wat jy nie wil doen nie. Jou kop is soms ook vasgevang tussen wat jou emosies begeer en wat jou rasionele denke weet die beste is vir jou. Die stryd tussen jou emosies en denke bewys dat jy ten volle mens is. Dit sê ook dat jy iets ervaar van Galasiërs 5 se stryd tussen vlees en gees. Jy kan nie doen wat jy wil nie. Daar woed ’n nimmereindigende geveg tussen jou begeertes en jou wil.

Jy sal God se doel vir jou misloop as jy net op die uitkyk is vir groot aardskuddende dinge of dinge wat almal laat hande klap en juig. God gebruik netsoveel klein dingetjies as groot dinge en partykeer gebruik Hy selfs meer klein dingetjies. God se wil is dat ons ons vrye wil moet gebruik om Sy wil te kies. Deel van sy doel vir ons is om “doelgerig” te leef met ’n doel. Baie mense voel nutteloos en mors hul tyd deur te wonder waarom hulle op aarde is. “Wie is ek?

Waarom is ek hier?” is die uitroep in menige hart.

Jy is hier omdat God jou wil hê! Jy is vir Hom belangrik en jy pas in sy doel. Jy is nie ’n ongeluk nie. Jy is persoonlik ontwerp deur God se hand en Hy het jou vermoëns gegee wat jy in diens van God en mens moet gebruik

Toe ek my veertigste verjaardaggevier het, het dit gevoel of ek ’n soort h alftyd bereik en ek het besluit om bestek op te neem van my lewe. Ek moet erken, ek was nie tevrede met wat ek ontdek het nie. 

Hoewel ek vir myself prioriteite gestel, hard gewerk en gefokus gebly het op die resultate wat ek wou behaal, was ek nie besig om die impak te maak waarop ek gehoop het nie. My gevolgtrekking? Ek het te veel op myself en die verwesenliking van my potensiaal gefokus, en nie genoeg op my verbintenisse en samewerking met ander mense nie. Hoe meer waarde jy aan mense heg, hoe meer sinvol sal jou lewe wees.

Die lewe vra ons meermale om die dapper keuse te maak om jouself aan die enkels op te trek, jou kop op te tel en te sê: “Dit voel nie of ek nog kan nie, maar ek weet ek kan.”

Tyd gaan net te vinnig verby.

Die meeste van ons bevind ons in lewensfases waar dit ongelooflik druk gaan en waar een dag soos water in ’n volgende een invloei en voor ek my weer kan kry vra ek vir myself: Gaan ek dan nooit tyd kry om net te lewe nie?

Die meeste mense is geneig om alles dadelik te wil hê. Ons is altyd haastig. Die meeste van ons raak ongeduldig as ons vir ’n draaideur moet wag! Wanneer ons bid dat ons drome vervul moet word, wil ons hê dit moet dadelik gebeur. Ons moet egter begryp dat God ’n bestemde tyd het om ons gebede te verhoor en ons drome te verwesenlik. Dit maak nie saak hoe haastig ons is om iets te kry of hoe ernstig ons bid of

God daarvoor smeek nie, dit sal nie sy bestemde tyd verander nie. Dit sal steeds volgens God se bestemde tydsberekening gebeur.

As ons nie God se tydsberekening vertrou nie, is ons lewe dikwels vol frustrasie en ontsteltenis omdat ons wonder wanneer God iets gaan doen.

Die rus van God is ’n plek van algehele vertroue. Wanneer jy in God se rus is, weet jy dat God op die volmaakte tyd alles sal doen wat Hy beloof het. Hy sal dit tot stand bring.

Jy kan maar al jou bekommernisse op Hom gooi. Hy sal vir jou sorg.

Een van die tragiesste dinge waaraan enige mens kan ly, is onkunde. Om totaal onbewus deur die lewe te strompel met ’n ingesteldheid van: “Wat ook al gebeur, moet maar gebeur.” Maar nog erger as dit, is om nie in die volheid te leef van die waarheid wat in God se joernaal vir jou lewe geskryf staan nie.

Wat sou dit vir jou beteken om sonder enige twyfel te weet dit is heeltemal moontlik om teleurstelling en selfs wanhoop te oorkom; om spyt en berou te bowe te kom en die krag te vind om die werklikheid in die oë te kyk, belangrike veranderings teweeg te bring en ’n hele nuwe hoofstuk in jou lewe te begin? Hoe sal jou lewe verander as jy jou gedagtes nuwe vorm kon gee, woorde vol lewe kon uiter wat ’n nuwe pad vir jou toekoms oopmaak, en nuwe dinge kon doen wat jou gees, siel en liggaam verhef? Wat sou jy bereid wees  om te doen om hierdie waarheid te ervaar?

“Slim” is ’n kragtige woord. Kinders wat glo hulle is slim, presteer beter op skool en pak die lewe met meer selfvertroue aan. Maar kinders wat nie so dink nie, kan sukkel om te fokus.

Almal wil slim wees. As kinders glo ander kinders is slim en hulle nié, kan hulle moed opgee. Toe ek vir graad 2-leerders skoolgehou het, was dit vir my ’n pynlike ervaring om te besef dat sommige kinders hulleself reeds as “slim” of “nie slim nie” geklassifiseer het. Selfs hulle ouers het hulle só geklassifi seer, en dit was waarskynlik waar die kinders hierdie etikette opgetel het.

Ek wens ek het toe al die taal van veelvuldige intelligensies geken.