Digitaal: R20.00
Gedruk: R37.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 14:

Daar is verbysterend baie navorsing wat die geweldig positiewe uitwerking toon wat meditasie op jou geluk, gesondheid, positiwiteit, liggaam, stres en kognitiewe vermoëns het. Dit was baie lank iets wat baie gelowiges geweier het om te doen. Ek wonder nogal waarom, want die Bybel praat dikwels van “om stil te word voor die Here”. Het ons dan gedink stil word beteken net gebed? “Gebed is wanneer jy met God praat, meditasie is as jy na God luister.” – Diana Robinson

Hoekom kan dit makliker wees om te gee as om toe te laat dat iemand jou liefhet? Dit is ’n vreesaanjaende keuse om jou mure van selfgenoegsaamheid af te breek. Hoekom is dit so moeilik om te glo dat jy verdien om liefgehê te word? Om toe te laat dat iemand jou liefhet, beteken om jou mure van selfgenoegsaamheid af te breek en jouself toe te laat om jou nood te erken en jou hande oop te maak om te ontvang. Om jouself toe te laat om liefde te ontvang, beteken jy vertrou jy sal in jou kwesbare nood liefgehê word; dit beteken jy glo jy verdien dit om liefgehê te word.

Jou lewe sal nooit heeltemal sonder probleme wees nie. Jy sal nooit saans op vleuels van drome
aan die slaap kan raak en dink: Mens, vandag het sonder enige probleme verloop nie. Jy sal nooit ’n koerantopskrif sien wat so lui nie: Vandag het ons net goeie nuus.

Daar is altyd probleme. Dit gebeur met ryk mense, sexy mense, opgevoede mense, gesofistikeerde mense. Dit gebeur met afgetrede mense, enkellopende mense, geestelike mense en wêreldse mense. Almal het probleme. Maar nie almal beskou probleme op dieselfde manier nie. Party mense word oorweldig deur hul probleme. Ander mense oorweldig hul probleme. Party mense word bitter. Ander mense word beter. Party mense beskou hul probleme met vrees. Ander met geloof.

Die tema van sterf aan jouself is waarskynlik een van die mees sentrale, maar terselfdertyd ook die mees ingewikkelde evangeliese konsepte om te verstaan. Hierdie pad gaan daaroor om jouself meer en meer aan God se wil vir jou lewe te onderwerp. Om met ander woorde elke dag as jy opstaan te bid: “Laat nie my wil vandag seëvier nie, Here, maar U wil.”
As daar maar iewers ’n bloudruk bestaan het vir presies wat dit behels en as daardie bloudruk vir almal dieselfde was, sou dit tog wonderlik wees, maar ek is bevrees dat dit nie so eenvoudig is nie.

Hoe gevaarlik is die wêreld waarin ons kinders vandag grootword? Beslis baie gevaarliker as die wêreld waarin ons, hul ouers, grootgeword het. Onthou, daar bestaan nie iets soos volmaakte kinders, volmaakte ouers of ’n volmaakte ouerskapsituasie nie. Geen twee ouerskapsituasies is identies nie. Elke ouer, elke kind, elke gesin en elke kindgrootmaaksituasie is uniek. En ons almal het elke greintjie hulp nodig wat ons kan kry.

Moet nooit die krag van ’n biddende ouer onderskat nie. As jy leer hoe om saam met God te werk deur vir jou kinders te bid, kan Hy ongelooflik en oorvloedig meer doen as wat jy ooit sou kon vra of dink.

Walt Disney het as tiener by ’n koerant-redakteur gehoor dat hy nie kreatief is nie en nie juis ’n sterk verbeelding het nie. Winston Churchill is nie as ’n goeie student beskou nie. Hy het die toelatingseksamen tot die Koninklike Militêre Akademie by Sandhurst twee keer gedruip. Wat hierdie mense se sukses gemeen gehad het, is dat hulle gekies het om die negatiewe etikette om hul nekke af te haal. Omdat hulle beter gedink het as wat ander mense gepraat het, het hulle veel beter geleef as wat die etikette voorspel het. Is daar etikette wat jou tans terughou? Dinge wat ander van jou gesê het en wat soos ’n albatros om jou nek hang? Die enigste mag wat ’n etiket oor jou het, is die mag wat jy daaraan gee.

Ons denke is die ontwerpers van die landskap van ons brein. Dink en kies speel ’n belangrike rol in wie God ons gemaak het om te wees. Wanneer ons denke, keuse en wetenskap met mekaar verbind, kom kwantumteorie as die sterspeler na vore. Die proses van dink en kies is die kragtigste ding in die heelal naas God, en dit is ’n fenomenale gawe van God wat gekoester en behoorlik gebruik moet word.

God neem ons op ’n reis deur die materiële wêreld na die spirituele wêreld sodat ons Hom beter kan leer ken, en die kwantumkonsep is deel van hierdie reis. In wese sê kwantumfisika dat jou bewussyn beïnvloed die gedrag van subatomiese partikels, met ander woorde, jou denke verander materie.