Digitaal: R20.00
Gedruk: R37.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 13:

Optimisme beteken dat jy die wêreld aanvaar soos dit is, met sy goed en sy sleg, en dit gaan eintlik daaroor dat die negatiewe ons nie moet oorweldig nie. Pessimiste, daarenteen, glo dat daar probleme is en hulle het geen beheer daaroor nie. Dit is dan ook die rede waarom hulle ’n gordel én kruisbande dra! Optimiste het die geloof dat hulle beheer het oor wat met hulle gebeur. “Om optimisties te wees is om jou kop na die son te draai, en jou voete vorentoe te beweeg.”

In die VSA is daar studies gedoen oor die hoeveelheid tyd wat mense met ’n wandering mind leef, dit wil sê, hoe dikwels hulle besig is om te dink aan dinge waaraan hulle nie op daardie tydstip in hulle situasie hoef te dink nie. Een bevinding is dat mense met ’n groter hoeveelheid mind wandering minder gelukkig is.

Elke oomblik het sy eie rykdom. Om daarin te leef is die rykdom van die lewe. Ons is egter geneig om by die wonder van die huidige verby te loop. Dis soos met die blommevelde van Namakwaland. As jy beweeg, sien jy nie alles nie, maar as jy gaan sit, is jy verstom oor die biodiversiteit rondom jou, ’n ryk verskeidenheid plante met ’n fees van helderkleurige blomme.

Elke oomblik bevat oneindige rykdom. Jy het niks meer as die oomblik nie, maar dis ook meer as wat jy ooit kan dink. Jou kop dink dit ken die oomblik reeds, maar elke oomblik is nuut met unieke moontlikhede, ook die gewone lewe soos dit is. As jy werklik teenwoordig is, bring dit die hier en nou tot lewe en jy ervaar hoe ryk en multidimensioneel die lewe is. Dan kan jy telkens sien wat jy nog nie gesien het nie, raaksien wat vir jou nuut is, alles vars ervaar, besef en insien. Jy ervaar dat elke oomblik oneindige diepte het en dat jy enige oomblik vlakker of dieper kan beleef. As jy teenwoordig lewe, lééf jy werklik.

As ons oopgaan vir die nou, gaan ons ook oop vir die wonder van die lewe, vir die wonderlike aanwesigheid van God in die lewe. Ons kom nader aan God en Hy kry meer beheer oor ons lewe.

Niks waardeur jy in jou lewe gaan is ooit tevergeefs as jy jou sorge aan die Here oorgee nie. Selfs al lyk jou verbrokkelde lewe soos ’n verlate slagveld, kan God al die stukkies van jou verlede omskep in iets moois.

Die Woord sê nie dat God ons dadelik van beproewing sal verlos nie. Ons moet dalk eers deur ‘n paar dinge gaan. Die lewe oorwin altyd die dood, en lig seëvier altyd oor die donker. Sonder God se Woord lyk die toekoms dalk donker, maar Jesus sê Hy het gekom om ons lig te wees: Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in my glo, nie in die duisternis sou bly nie (John 12:46).

Almal van ons kom voor situasies te staan wat onmoontlik lyk. Dis maklik om dan mismoedig te word en te dink dat dinge nooit sal uitwerk nie. Maar die Skrif sê vir ons dat God ons paaie wat skeef loop, reguit maak. Jy het miskien nie nou die kontakte om jou drome te verwesenlik nie, maar kwel jou nie daaroor nie. God gaan voor jou uit om die regte mense daar te stel. Hy organiseer die regte deurbrake en die regte geleenthede.

Dit sal nie noodwendig oornag gebeur nie, maar op die regte tyd en in die regte seisoen sal God nie net die verkeerde mense uit jou pad neem nie, maar Hy sal jou ook vergoed vir elke onreg teen jou. Hy sal verlore tyd inhaal en jou lei na waar jy moet wees. Jy is miskien moedeloos en dink jou situasie is onveranderlik. Miskien sien jy niks gebeur nie. Maar as die gordyn oopgetrek was, sou jy die onsienbare gesien het. Daar sou jy vir God aan die werk gesien het, besig om dinge in jou guns te laat werk.

Ons mense hou van ons gemak. Nie omdat dit altyd so lekker daar is nie, maar juis omdat ek eerder in my huidige situasie sal voortleef as om te kies om die onbekende wêreld van verandering te trotseer. En tog is Neale Donald Walsch se woorde baie waar: “Die lewe begin aan die einde van jou gemaksone.” Presies wat sou dit beteken?

Ongemak kan een van die kragtigste stemme in ons lewe wees, juis omdat dit uit ‘n baie diep plek in onsself kom. Daardie plek waarvan die meeste van ons nie altyd bewus leef nie. Interne ongemak kan uit ‘n onontginde deel in myself kom wat my wil aanpor om te groei en te transformeer. Wanneer ons kies om die stem van ons ongemak te ignoreer mag dit selfs ‘n passiewe vorm van weerstand wees teen dit waarmee die Here in ons lewens sou wou besig wees.

Die lewe is ’n lappieskombers. En ’n liefdeslied. Dit is erg. Dit is goed. Soms laat dit ons voel na tou opgooi. Soms laat dit ons verbete veg vir dit wat vir ons ononderhandelbaar is. Soms voel dit te stukkend om ooit weer heel te word. Soms voel dit onwerklik. Ondenkbaar. En soms is dit eufories. Asem, aanraking, geur. Aarde, lig, klank, kleur. Wolke en wind; wysies. Oë, hande, stem. Rug aan rug: ’n Oop pad, of ’n deur wat dig getrek word. ’n Eerste skree. ’n Laaste sug.

Ons laslap-lewens is ’n kosbare, kwesbare weefsel: Baie blokkies iets wat stuk vir stuk bymekaarkom en uiteindelik, oor jare, ’n geheel vorm. ’n Gebroke geheel wat ’n storie, baie stories, vertel. Deesdae sien ’n mens min sulke komberse. Dit word nou museumgoed. Uitstalstukke. Wat bewaar word om te wys hoe ons grootjies iets uit niks kon maak. Hoe hulle klein weggooistukkies oorskietlap aan mekaar kon vaswerk om weer iets nuttigs te vorm. Iets bruikbaars, soos ’n kombers. Wat jy warm, troostend om ’n siek kind kan vou. Of knus en koesterend oor ’n geliefde kan lê.

Ons lewenskomberse se brokkies en stukkies is egter nie oorskiet- of weggooigoed nie. Dit is koestergoed: verhoudings, vreugdes, verwagtinge; en skrikgoed soos verleenthede, verandering, verlies. Ons lap, lewenslank, ervaring ná ervaring aanmekaar. Hopelik meestal met drade van geloof, hoop en liefde. Veral liefde. Want ál wat ons bymekaarhou, is die Goddelike aanmekaarbindgare van die liefde.

Dis wonderlik om volwassenes te help wat reeds jare lank sukkel om grense te stel, maar ons wil voorkom dat kinders dieselfde stryd moet voer met die herstel van defektiewe grense. Die meeste van die volwassenes wat ek teëgekom het, se ouers het goeie bedoelings gehad. Daardie ouers het dikwels nie die vaagste benul gehad van hoe om grense in hulle kinders se lewens in te bou nie en het dus die gebrekkige funksionering van hul eie grense aan hulle kinders oorgedra.

Baie van hierdie kinders se pyn sou vermy kon word as hierdie ouers geweet het hoe om ’n kind met gesonde grense groot te maak. Dit is beter vir ’n kind om hulle voorregte te verloor as vir ’n volwassene om ’n huwelik of loopbaan te verloor. Grense is die sleutel om verhoudings te laat werk.

Vroue wat hul brood verdien deur hulself vir mans aan te bied, is so oud soos die berge. En die publiek se reaksie op die vroue van hierdie bedryf is ook so oud soos die berge. Wat weet ons van vroue in hierdie bedryf? Hoekom beland hulle daar? Hoeveel van hulle haat eintlik elke oomblik daarvan, maar dit is al wat hulle ken? Hulle hou nou maar die vlag van sogenaamde oorwinning op, maar in hul binneste raak hulle wanhopig omdat daardie goue geleentheid op ’n algehele wegbreek uit hul situasie net nie opduik nie.

Ragab was ’n hoer. Dis eintlik kras dat die Bybel haar sommerso by die naam noem, asof daar geen genade is nie. Maar deur haar vrees vir die God van Abraham, Isak en Jakob het sy vir Hom so aanvaarbaar geword dat nie net haar lewe en haar hele familie gespaar is nie; sy het selfs ’n oumagrootjie van koning Dawid geword.