Digitaal: R20.00
Gedruk: R34.00 (sluit posgeld in)

Inhoud van Volume 12:

Aangeleerde hulpeloosheid is om moed op te gee, wat afkomstig is van die geloof dat niks wat jy doen saakmaak nie. 

Navorsing toon dat van vyf tot agt van die simptome van depressie ook van toepassing op aangeleerde hulpeloosheid is. Daar word dus wêreldwyd by sekere mense verkeerdelik depressie gediagnoseer wat niks anders as aangeleerde hulpeloosheid is nie. Baie mense drink depressietablette, maar hulle is eintlik pessimisties. As hulle dus hul lewenswyse van pessimisties en aangeleerde hulpeloosheid na ’n meer optimistiese lewenstyl gaan verander, gaan hul hele lewe verander. Nogal iets om op die uitkyk voor te wees. Ek wonder hoeveel medici is hiervan bewus en voer hul pasiënte verkeerdelik pille. By baie pasiënte is daar geensins ’n chemiese wanbalans nie, dit is niks anders as aangeleerde hulpeloosheid nie!

Dalk bevind jy jou in ’n situasie waardeur jy vrees jy nie gaan kom nie – jy vrees dat die depressie nooit sal lig nie, die geskree nie gaan stop nie of die pyn nooit gaan ophou nie. In die put van ellende, omring deur hoë mure en pynlike herinneringe, wonder jy: Sal die son ooit deur hierdie grys wolke breek? Sal hierdie las ooit ligter raak? 

God beloof nie dat ons vinnig en pynloos deur ons swaarkrytye sal kom nie. Kyk maar na Josef se lewe: Hy is in ’n put gegooi, in slawerny verkoop, onregverdig tronk toe gestuur, vergeet en afgeskryf. Maar sy verhaal is in die Bybel met ’n rede: om ons te leer om God te vertrou om die bose se planne te fnuik.

Dink jou dit in – ’n advertensie wat só lui: Was jy nog altyd lus vir ’n pelgrimsreis? Hier is jou kans! Ons vertrek op dag 1 vanaf Ashoop en voltooi ons reis op dag 40 by Hoop. Dit is ’n gulde geleentheid. Moet dit nie misloop nie! Lydenstyd sal nooit weer dieselfde wees nie. Hoewel die verwysing na Lydenstyd dit nie juis laat klink na ’n soort reis wat ék sou wou onderneem nie. Nogal 40 dae lank. En waarom dié roete – tussen Ashoop en Hoop? In die Christelike tradisie word daar dikwels 40 dae voor die Pase ‘n geloofsreis onderneem. En dit is die fees wat altyd, sonder uitsondering, op ’n Woensdag begin.

Lydenstyd is ’n pelgrimsreis na binne van sterf en weer begin. Van afskeid neem en nuwe kanse. Dit is ’n tyd van afsondering en selfondersoek wat, ná 40 dae, die metaforiese lentebloeisels van ’n nuwe lewe ná ’n winterseisoen aanbied.

As jy God herinner aan sy beloftes, laat jy Hom toe om hulle uit te voer. Jy voel dalk siek en die mediese verslag is swak. Jy kan maklik sê: “Here, ek kan nie sien hoe ek dit gaan maak om gesond te word nie. Dit lyk nie goed nie.”

Moenie vir God aan jou probleme herinner nie ─ herinner Hom aan sy beloftes. “Here, U het beloof om my gesond te maak en my wonde te genees. U het gesê ek sal lewe en nie sterwe nie. U het gesê wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik.”

Bid vir die beloftes en nie vir die probleme nie, en jy sal nie net beter voel nie, maar jou ingesteldheid sal verander van dié van ‘n slagoffer na dié van ‘n oorwinnaar. God se woorde wat uit jou mond kom, leef en is kragtig. Wanneer God aan sy beloftes herinner word, stuur Hy die engele uit met antwoorde. Hy sit wonderwerke aan die gang. Hy verander dinge in jou guns. Dit gebeur miskien nie oornag nie, maar jy moet jou geloof behou en God voortdurend herinner aan sy beloftes. In plaas daarvan om te kla, in plaas daarvan om te bedel en in plaas daarvan om die omstandighede te beskryf, hoef jy net te sê: “Here God, U het gesê…”

Dis vir ons maklik om te dink dat God heilig is, maar hoe op aarde kan ons heilig wees? Dalk is een van die probleme dat ons in ons onderbewussyn heilig wees ook sien as perfek wees, sonder gebrokenheid en foutloos. Weereens is dit maklik om só oor God te dink, maar dis tog mos nou nie waar van ons nie, want ons is allesbehalwe perfek, ons is gebroke en vol foute. So hoe kan ek dan heilig wees? As mens heiligheid so verstaan sal niemand van ons ooit heilig wees nie.

Vir baie lank loop ons al met die idee dat mense wat heilig is so half verhewe is bo die aarde en nooit iets verkeerd doen nie. Dis natuurlik ook ‘n bedreigende gedagte, dat iemand anders heilig is en ek nie, want as iemand dan nou so vlekkeloos is en ek is nie, voel ek heeltyd dat ek dit net nie maak nie. Al probeer ek hoe hard sal ek dit net nooit regkry om regtig heilig te wees soos sekere heilige mense waarvan ek weet nie. En dan diskwalifiseer ek myself sommer onmiddellik van enige potensiële heiligheid.

Ons kinders het die behoefte om te weet dat hule geliefd is as ons wil hê dat hulle in verantwoordelike volwassenes moet ontwikkel. Om jou kind se primêre liefdestaal te ontsyfer, kan tyd neem, maar daar is definitiewe leidrade om vas te stel of jou kind se voorkeur taal fisieke aanraking, opbouende woorde, kwaliteit-tyd, geskenke of diensbaarheid is. Voordat jy hierdie leidrade begin ontsyfer, moet ons na nog ’n noodsaaklike rede kyk waarom dit die moeite werd is. Jou kind voel geliefd wanneer jy haar liefdestaal praat. 

Wanneer jou kind geliefd voel, wanneer haar emosionele tenk vol is, sal sy op alle gebiede meer ontvanklik vir ouerlike leiding wees. Sy sal sonder teensin luister. Maar daar is ’n ander, ewe belangrike rede waarom jy jou kind se liefdestaal moet leer – en om die ander vier tale te praat. Wanneer ons in al vyf tale praat, terwyl daar spesiale klem op haar liefdestaal gelê word, wys ons haar hoe om vir ander mense lief te wees en dat dit nodig is om te leer om ander mense se liefdestale te praat.

Die vraag “Soos wat ruik Jesus?” het Jesus vir my nader gebring, mens gemaak. Jesus is baie keer so ver en “geestelik” dat dit moeilik is om met Hom te assosieer, om Hom te ken. Ek het besef dat  Jesus ook soos ek na sweet geruik het of na stof na ‘n dag se stap op ‘n grondpad. Die reuke in Jesus se lewe maak Hom mens. Sy menswees is tog die wonder van die evangelie, ‘n wonder wat ons nie altyd raaksien nie: God wat mens geword het en by ons kom bly het. ‘n Vlees-en-bloed mens. Hoe fantasties.

Jesus het so na aan ons gekom dat Hy soos ons geruik het, soms sag en soms hard. God het naby kom woon in Jesus. Die reuke van ons wêreld het aan Hom afgesmeer en sy heilige reuk uiteindelik aan ons. God was en is steeds mens. ‘n Mens wat in ‘n krip gelê het, soos ‘n herder geruik het, na sweet, stof, wierook, mirre, hout, parfuum en bloed. Hierdie mens het ons omhels en hierdie mens sit nou op die troon in die middel van die heelal, van waar Hy weer na ons sal kom.

In die skool van die lewe is een van die hoofvakke wat ek en jy een of ander tyd moet deurkom die een oor hoe om dit wat ek oor al die jare bymekaargemaak het, te kan laat gaan. Dis nogal seker een van die heel moeilikste goed om reg te kry, want waar begin jy? Miskien die heel moeilikste omdat jy moet aanvaar dis hoe die lewe rêrig is: Alles wat jy bymekaargemaak het, sal jy een of ander tyd moet laat gaan. Soms is dit maklik, maar die meeste van die tyd maak dit seer. Soos wat ’n mens ouer word, verloor jy op ’n stadium jou kinderspeelgoed … jou skoolvriende … jou eerste liefde … jou jonkwees … jou gesondheid … jou werk – en elke stukkie laat gaan of verloor, het sy eie seer. Want jy sien, al hierdie goed wat ek het of bymekaargemaak het, is eintlik net vir my geleen en ek kan aan niks hiervan bly vashou nie.

Dis jou keuse wat jy doen as jy iets in die lewe verloor. Op die ou end is die vraag: Wat leer ek uit al die verloor-ervarings in my lewe? Een van die moeilikste lesse is om die groter prentjie waarbinne ek iets verloor of moet laat gaan te probeer verstaan.