Dr Pieter van Jaarsveld

Optimisme beteken dat jy die wêreld aanvaar soos dit is, met sy goed en sy sleg, en dit gaan eintlik daaroor dat die negatiewe ons nie moet oorweldig nie.

Op ’n onlangse internasionale konferensie oor emosionele intelligensie spreek ’n spreker sy kommer uit oor hoe die wêreld bedreig word deur ’n tsoenami van pessimisme onder mense.

Die woord “optimisme” het sy oorsprong van die Latynse woord optimum, wat eintlik beteken die bes moontlike. Optimisme beteken dat jy die wêreld aanvaar soos dit is, met sy goed en sy sleg, en dit gaan eintlik daaroor dat die negatiewe ons nie moet oorweldig nie. Pessimiste, daarenteen, glo dat daar probleme is en hulle het geen beheer daaroor nie. Optimiste het die geloof dat hulle beheer het oor wat met hulle gebeur.

’n Uitstaande voorbeeld van ’n optimistiese mens is Thomas Edison.

Thomas Edison
Toe Edison se ma hom die dag skool toe geneem het, word sy vertel dat hy nie gereed vir skool is nie. Hy moes nog ’n rukkie wag. Sy ma het egter gesê sy ken haar kind en sy was oortuig dat hy sou slaag. Dus het sy hom teruggeneem skool toe. Die perfekte voorbeeld van ’n optimistiese ma wat in haar kind geglo het. Later het party van sy onderwysers gemeen dat hy nie slim genoeg was om ’n sukses te wees nie – en dit is die man wat vorendag gekom het met die tweede meeste uitvindings in die wêreld, naamlik die gloeilamp, fonograaf, mikrofoon, klankrolprente, opgaarbatterye en ’n menigte ander! Hy het met sy uitvinding van die gloeilamp geslaag waar ’n groot aantal ander mense misluk het.

In Edison se biografie wat deur sy seun geskryf is, is dit duidelik dat Edison iemand was wat geweier het om mismoe­dig te raak en wat ’n aansteeklike sin vir optimisme gehad het. Finansieel het hy bitter swaar gekry, as gevolg van sy vrugtelose eksperimente met die nikkel-yster-alkali-opgaar­battery, wat ’n tien jaar lange projek was. Al wat hom van bankrotskap gered het, was die wins wat hy uit die rolprent- en plateproduksies gemaak het.

Op ’n ysig koue Desemberaand in 1914 het ’n brand dwarsdeur sy fabriek versprei. Brandbestryders uit agt buur­dorpe kon dit nie regkry om die brand te blus nie – die waterdruk was te laag en die brand was intensief. Die fabriek is geheel en al vernietig.

Edison het sy seun aangesê om sy ma en ’n paar vriende te gaan roep – hulle sou nooit weer so ’n brand sien nie. Sy gees was hoegenaamd nie geblus nie! Die volgende oggend het hy vir sy werknemers gesê: “Ons gaan die fabriek herbou. Ons kan altyd iets uit hierdie katastrofe wen. Ons het nou van al die gemors ontslae geraak – ons gaan iets groters en beters op hierdie puinhoop bou.” En dit was nou ’n man wat op die rand van bankrotskap gestaan het! Hy was die verpersoonliking van optimisme.

Die goeie nuus is dat optimisme nie net ’n paar uitverkorenes beskore is nie – elke mens kan leer hoe om meer optimisties te word, selfs die grootste pessimis!

Nelson Mandela
Madiba het vertel hoe hy geglo het dat die stryd in ’n gevangenis maar baie dieselfde is as die oorlewing waarvoor ’n mens in die daaglikse lewe moet veg. Hy het vas geglo dat hy moed gehad het om in die tronk uit te hou omdat hy ’n optimistiese persoon was.

“Om optimisties te wees is om jou kop na die son te draai, en jou voete vorentoe te beweeg. Daar was baie donker oomblikke wat my geloof in die mensdom tot die uiterste toe getoets het, maar ek wou en kon nie myself oorgee aan hopeloosheid nie. Dit was die pad na mislukking en die dood,” skryf hy, en: “Ek het altyd geweet dat ek eendag weer die gras onder my voete sou voel en in die sonskyn sou stap as ‘n vry man.”

Dit is die verskil tussen ’n optimistiese en pessimistiese leefwyse. Dit is ’n keuse, en is binne ons almal se bereik.

Manna tydskrif-Dink jouself gelukkig deur Dr Piter van Jaarsveld

Dr Pieter van Jaarsveld is ‘n erkende internasionale konsultant in die sakewêreld. Hy het twee meestersgrade (in sielkunde en teologie) en ‘n doktorsgraad (oor die selfbeeld van mense). Sy nuutste boek, Dink jouself gelukkig, is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels.