Joel Osteen

Almal van ons kom voor situasies te staan wat onmoontlik lyk. Dis maklik om dan mismoedig te word en te dink dat dinge nooit sal uitwerk nie. Maar die Skrif sê vir ons dat God ons paaie wat skeef loop, reguit maak. Jy het miskien nie nou die kontakte om jou drome te verwesenlik nie, maar kwel jou nie daaroor nie. God gaan voor jou uit om die regte mense daar te stel. Hy organiseer die regte deurbrake en die regte geleenthede.

Miskien het jy jou werk verloor of is jou werksure verkort. Dis maklik om toe te gee en negatief te dink dat niks sal verander nie. Maar jy moet besef dat hierdie verlies nie vir God ‘n verassing is nie. Hy sit nie in die hemel en wonder: “Ag nee, wat gaan Ek nou doen?” nie.

Elke dag van jou lewe staan reeds in God se boek geskryf. Hy het presies geweet van die terugslag wat kom en die goeie nuus is dat hy reeds die ommekeer gereël het. Voor jy die probleem gekry het, het God al die oplossing gehad. Hy gaan op hierdie oomblik voor jou uit om die volgende hoofstuk in jou lewe voor te berei. As jy aanhou glo en die regte ingesteldheid handhaaf, kom daar ‘n beter hoofstuk met groter oorwinnings en groter vervulling.

Dit sal nie noodwendig oornag gebeur nie, maar op die regte tyd en in die regte seisoen sal God nie net die verkeerde mense uit jou pad neem nie, maar Hy sal jou ook vergoed vir elke onreg teen jou. Jy is miskien moedeloos en dink jou situasie is onveranderlik. Miskien sien jy niks gebeur nie. Maar as die gordyn oopgetrek was, sou jy die onsienbare gesien het. Daar sou jy vir God aan die werk gesien het, besig om dinge in jou guns te laat werk.

Hy beplan dalk om ‘n deur oop te maak en ‘n bepaalde persoon jou pad te laat kruis. Hy kry jou in posisie vir die regte geleenthede. Hy kyk selfs jare vooruit en sorg vir oplossings vir probleme wat nog aan die kom is.

Dit is noodsaaklik dat jy in jou gees moet glo soos nog nooit tevore nie: God gaan voor jou uit en maak die krom paaie reguit. Jy het wel ‘n teleurstelling beleef, of ‘n onregverdige situasie, maar moenie daar vassteek nie. Moenie in selfbejammering versink nie. God het reeds in jou toekoms ‘n nuwe begin, nuwe vriendskappe en nuwe geleenthede geskep. Dis reg voor jou. Verlede jaar was miskien moeilik met jou finansies of in jou beroep. As jy terugslae beleef het, moenie die fout maak om te dink hierdie jaar sal weer so wees nie. Verskerp jou visie. Dis nou ‘n nuwe dag.

Jy het dalk onlangs ‘n paar treë teruggeval, maar ek verseker jou dat God jou weer vorentoe sal stoot. Jou ingesteldheid moet wees: “Ja, die ekonomie is power, maar ek bekommer my nie. Ek weet God gaan voor my uit en Hy het beloof Hy sal riviere in die woestyn laat vloei. Hy sal in my behoeftes voorsien, selfs in die middel van ‘n resessie.”

As jou gesondheid swak is, moet jou ingesteldheid wees: “Die mediese verslag lyk miskien sleg. Party mense meen ek moet maar daarmee saamleef. Maar ek het ‘n verslag van God wat sê Hy sal my gesondheid herstel. Ek glo God het reeds in my toekoms genesing, gesondheid en oorwinning vir my.”

As jy bevrees is dat jou kind afgedwaal het, mag dit vir jou ‘n gewoonteweg onmoontlik lyk om hom weer terug te kry. Maar jou verslag moet wees: “Ek weet God kan die onmoontlike doen. Ek sien nie hoe nie, maar ek weet God ken die pad. Ek glo Hy sal my kind voorsien van die regte mense om sy pad te kruis, sodat hy van die verkeerde vriende kan wegbreek. Hy sal uit die duisternis terugkom, sy oë sal oopgaan vir bedrog en hy sal die wysheid kry om goeie keuses te maak om sy lotsbestemming te vervul.”

As iemand weer probeer om jou te ontmoedig, of as jou eie gedagtes jou probeer oortuig dat jy in ‘n onmoontlik situasie is, gebruik die antwoord wat God die volk Israel gegee het. “Ja, dit lyk miskien onmoontlik. My uitdagings is groot en alles tel teen my. Ek ontken die feite nie. Die waarheid is egter dat ek nie bekommerd is nie. Ek weet God spreek die finale woord en Hy het beloof Hy sal voor my uitgaan en my uitdagings namens my aanpak. Ek kan dus verklaar: “Ek sal hulle gou oorkom.”

Skakel oor na geloof.

Dit sal nie deur jou eie krag of mag gebeur nie. Jy sal dit regkry omdat die almagtige God, die Een wat jou toekoms in sy hande hou, voor jou uitgaan en namens jou die stryd aanknoop en jou kronkelpaaie reguit maak!