Willem Nicol

In die VSA is daar studies gedoen oor die hoeveelheid tyd wat mense met ’n wandering mind leef, dit wil sê, hoe dikwels hulle besig is om te dink aan dinge waaraan hulle nie op daardie tydstip in hulle situasie hoef te dink nie. Een bevinding is dat mense met ’n groter hoeveelheid mind wandering minder gelukkig is.

Ek gaan haal soms vir my twee blokkies sjokolade uit ons spenskas. Wanneer ek dit klaar geëet het, besef ek soms dat ek dit net sowel nie kon geëet het nie, want die oomblik dat ek die sjokolade in my mond gesit het, het my aandag na ’n ander saak beweeg. Ek het die sjokolade nie bewustelik geniet nie.

RM Pirsig verduidelik hierdie ervaring deur ’n ego-bergklimmer te skets. Hy klim ’n pragtige berg uit. Hy klim om bo te kom. Hy kyk telkens boontoe, al het hy so pas opgekyk. Hy sien nie hoe die sonlig deur die bome val nie. Hy geniet nie die waterpoele, rotse en blomme langs sy steil paadjie nie. Hy kan die hier en nou nie syne maak nie, want dis vir hom altyd net ’n deurgang. Dit sou beter gewees het as dié klimmer nie geklim het om bo uit te kom nie, maar geklim het om te klim. Dan kon hy elke pragtige oomblik op sy kronkelpaadjie waardeer het.

Elke oomblik het sy eie rykdom. Om daarin te leef is die rykdom van die lewe.

Die Bybel roep ons na die hier en nou

Maak ons geloof die pad vir ons oop om meer teenwoordig in die hier en nou te leef? Natuurlik! Gebed en vertroue in God beteken tog ons laat die toekoms in sy hande en bevry só ons kop van ’n gekarring daaroor.

Daarom kan Paulus skryf dat ons oor niks besorg moet wees nie, maar in plaas daarvan net alles vir God moet sê. Hy bedoel natuurlik regtig met die wete dat God dit hoor en opneem. Hy bedoel nie dat ons maar net ons probleme vir God moet opnoem en dan aangaan asof ons onseker is hoe God gaan reageer nie. Wat gebeur dan wanneer ons ons probleme regtig vir God gee? Iets wat alle verstand te bowe gaan.

God se magtige vrede bring die hele gewoel in jou kop en hart tot rus. Só nooi die Here jou uit die toekoms tot in die huidige oomblik in. Los die gemaal in jou kop oor wat voorlê en kom tot in die hier en nou waar jy met God kan praat en sy vrede kan ontvang. Jy kan jou lewe met al sy omstandighede vir die Here gee en glo dat dié vrede nou joune is, ja, nou hier terwyl jy sit en lees. As jy aanhou dink dit kom eers later, bly dit later en kom dit nooit. Dié vrede moet jou verstand te bowe gaan, want met jou gewone verstand kan jy nie sien hoe God jou deur alles van hierdie lewe kan dra nie. Met jou gewone verstand kan jy in elk geval glad nie begryp hoe groot God is nie – die Een op wie se vinger die hele heelal met sy miljarde ligjare soos ’n druppeltjie rus.

Dis hoekom Jesus oor bekommernisse kan praat soos Hy praat. Hy sê in werklikheid vir ons: “Daar is twee aksies wat jy kan uitvoer in plaas daarvan om jou te loop en bekommer. Die eerste is: Kyk, kyk mooi na die natuur, byvoorbeeld na die blomme en die voëls. Jy sal sien hulle is mooier en vryer as wat jy gedink het. Hou aan kyk totdat jy sien dis hoe wonderlik God sorg en totdat jy besef dat God nog beter vir jou sorg omdat jy aan Hom behoort.

Kom in die oomblik in deur met jou hele hart te kyk. Die tweede is: Doen in die huidige oomblik net wat jy nou behoort te doen, beywer jou vir die wil van God. So sal dit vir jou moontlik word om te aanvaar dat daar maar altyd moeilikheid is, maar dat jy die moeilikheid wat voorlê, die probleme van môre, eers kan los totdat jy daar kom.” Jesus se woorde beteken: As jy ’n probleem het, moenie ’n probleem daarmee hê dat jy die probleem het nie. Hê maar net die probleem en spaar al jou energie totdat die tyd aanbreek dat jy dit moet hanteer.

As jy werklik teenwoordig is, bring dit die hier en nou tot lewe en jy ervaar hoe ryk en multidimensioneel die lewe is. Dan kan jy telkens sien wat jy nog nie gesien het nie, raaksien wat vir jou nuut is, alles vars ervaar, besef en insien. Jy ervaar dat elke oomblik oneindige diepte het en dat jy enige oomblik vlakker of dieper kan beleef. As jy teenwoordig lewe, lééf jy werklik.

Manna tydskrif-Oop vir die oomblik deur Willem Nicol

Willem Nicol se nuutse boek, Oop vir die Oomblik is nou beskikbaar by toonaangewende boekwinkels.